Resensie van Old Nectar. A garden for all seasons deur Una van der Spuy

Feitlik die ganse Suid-Afrikaanse tuinmaakpubliek van 30 jaar gelede wat ‘n nuwe tuin moes uitlê het dit gedoen aan die hand van Una van der Spuy. Die doyenne van tuinmaak is nou 97 jaar oud en na ‘n verbintenis van amper 70 jaar met die tuine van Old Nectar, het sy ‘n persoonlike relaas oor haar geliefde, en manjifieke, tuin deur die seisoene heen gepubliseer.

Van der Spuy se tuin, ‘n nasionale monument in die Jonkershoekvallei van Stellenbosch, is ‘n porsie van die groter plaas wat in 1692 deur goewerneur Simon van der Stel aan vrygemaakte slawe gegee is. Deur die jare heen had dit verskillende name – ‘Nektar’, toe ‘Jan Lui’ – asook baie eienaars, soos ene Jan Christiaan Nielen Marais in die 1840s: die vader van Eugène Marais.

Una en haar man, maj-genl Kenneth van der Spuy het Old Nectar in 1942 gekoop. Kenneth van der Spuy het na sy aftrede uit die lugmag sy oog op rooskweking gehad en Una is holderstebolder in tuinmaak ingegooi (“the only subject I had not enjoyed at school was botany”). Alles wat sy, ‘n politieke studies-graduant, haarself oor tuinmaak geleer het, het sy aan Suid-Afrikaners meegedeel met haar bekende boeke soos Maak tuin met struike, Maak tuin met dekplante en Die groot tuinboek oor inheemse struike en bome.

En so is haar lewe en loopbaan gerig deur hierdie stuk grond en op 95, ná sy verskeie rugwerwels gebreek het tydens besoek aan haar seun in Australië, het sy besluit om ‘n boek net aan haar tuin te wy. Met behulp van ‘n digitale kamera geskenk deur haar seun, het sy op krukke deur Old Nectar beweeg en die grote tuin se beroemde pergola van rankrose, die woudtuin, die roostuin, die voortuin, die formele tuin afgeneem oor die bestek van vier seisoene.

Sy skryf geesdriftig oor die vreug van digitale fotografie en die vryheid wat dit bied, maar daaruit spruit my een milde punt van kritiek: sy het al die jare die foto’s vir haar boeke geneem en enigeen wat haar vorige boeke deurblaai, sal oplet dat daardie foto’s baie lewendiger van kleur en lig was. In hierdie boek lyk dit of die Jonkershoekvallei altyd bewolk is. En, jammer genoeg, het die foto van hul opstal op die voorblad van haar man se boek uit 1969 (Old Nectar and Roses) jaartse meer karakter en sprankel as die foto gekies vir hierdie voorblad. Ek moes wonder waarom so ‘n liefderik-gefotografeerde tuin slegs geïllustreer is deur onlangse foto’s.

Voorts sou ‘n stukkie oor wat agter die skerms van so ‘n beroemde tuin gebeur – die tuiniers, die beplanning en kweking, die komposhoop – Van der Spuy se liefdesbrief aan haar tuin voltooi.

Die ongebreidelde plesier wat sy uit haar tuin put, is duidelik en, miskien, die rede vir haar selfstandigheid en energie op amper honderd. Sy maak nie duidelik wat die toekoms van die tuin sal wees na haar heengaan nie; as nasionale monument word dit hopelik met dieselfde sorgvuld en liefde bewaar.